Dit het alles begin die laaste week in April en die eerste week in Mei, wat jy so aardge hoesie ontwikkel het, ons het niks snaaks daarvan gedink nie en het jou soos gewoonlik maar probeer gesond dokter met die medisyne wat in die huis was.
Teen Maandag, 3 Mei 2010, kon ons sien dat dit nie beter word nie en het Mamma jou dokter toe gevat, sy het jou ondersoek en bevestig dat jy lugweg-inflimasie en infeksie het en het vir ons medisyne voorgeskryf. Mamma het jou die hele week probeer gesond dokter met die medisyne wat die dokter vir ons gegee het, maar dit wou nie werk nie en het jy net al sieker geword, so dat jy naderhand koors ontwikkel het.
Mamma het jou toe maar weer Vrydag, 7 Mei 2010 terug gevat dokter toe, sy het jou weer ondersoek en vir ons gesê dat die infeksie en inflimasie afgesak het in jou bors, en het vir ons nuwe medisyne gegee. So het ons toe maar oor die naweek verder probeer om jou gesond te kry, maar dinge het net al erger en erger geraak. Ek het jou maar Maandag, 10 Mei 2010, terug gestuur skool toe met streng instruksies dat hulle ons dadelik moet bel as jy nie beter word nie.
Teen 15h00 daai middag het die skool baie bekommerd vir Pappa gebel en gevra dat ons jou moet kom haal want jou koors is baie hoog gewees en jy het bly opgooi. Ons het jou by die skool gaan optel en dringend terug gevat dokter toe, wat bevestig het dat jy longontsteking ontwikkel het en dat sy dink jy maar eerder in die hospitaal opgeneem moet word, waarna sy ons na 'n Pediater toe verwys het.
Die pediater het jou ondersoek en nog voor ons behoorlik tot verhaal kon kom, ons na die Pediatriese ICU toe met jou gestuur het.
Dit was so deurmekaar en Mamma en Pappa het behoorlik nie geweet waar om te vat en waar om te los nie.
Ons het vir jou 'n lêer laat oopmaak en is terug na die saal toe waar jy opgeneem moes word. Hulle het jou kom haal om bloed te laat trek vir die bloedtoetse wat hulle moes laat doen en Mamma se hart het in 'n duisend stukke gebreek, want hoe kan hul daai "groot" naalde in jou armpie wil druk?
Pappa het saam met jou gegaan want Mamma was nie braaf genoeg gewees nie, en ek kon jou tot in die kamer hoor huil toe hul die bloed moes trek!
Jy was baie ongelukkig met al die tannies toe hul uiteindelik klaar was, want toe het hul ook sommer 'n drup in jou regter armpie gesit en jou arm toe-verband sodat jy nie aan die drup kan karring en trek nie.
Ek het vir Pappa lysies gemaak van wat hy als vir my en vir jou moes gaan inpak by die huis om ons verblyf in die hospitaal net bietjie makliker te maak, en so het die langste week ons ons lewens begin.
Mamma het in die aande by jou in die hospitaal geslaap, want ons wou jy net eenvoudig nie alleen los in daai vreemde plek nie. Pappa het Dinsdag verlof gevat by die werk en was die hele dag saam met ons by die hospitaal gewees. Hy is gou Woensdag vinnig in werk toe, maar was sommer gou weer terug by ons gewees. Intussen het Oupa Hardus & Ouma Melinda vir jou 'n draagbare DVD-speler gekoop om jou besig te hou terwyl jy in die hospitaal was, en jy het dit so geniet, want jy het die een DVD na die ander gesit en kyk.
Jy is uiteindelik Donderdag, 13 Mei 2010, uit die hospitaal ontslaan, met nog 'n hele rits medisyne wat jy moes drink.
Ons is eintlik so trots op jou, want jy was so braaf en stroop-soet terwyl jy in die hospitaal was, jy was altyd vriendelik mat die "Tannie-Susters" gewees (Behalwe as jy wou slaap in die aand en hulle wou jou medisyne vir jou gee). En binne 'n japtrap was jy sommer gou weer gesond en weer jou ou self.
Dit het net weereens vir my en Pappa gewys dat ons biekie-baba nou in 'n brawe, sterk, liefdevolle, wonderlike klein seuntjie verander het!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.