Oppad werk toe vanoggend "ping" my Blackberry op die sitplek langs my, en, so tussen die bestuur deur, lees ek gou die boodskap met een oog...skielik besef ek hoekom dit juis vanoggend moes reën, elke druppel teen my ruit is 'n traan wat deur 'n Engel gestort word...Nikky het vanoggend haar man aan kanker verloor, klein Jordan het vanoggend sy pappa verloor....
Ek sluk swaar en sukkel om deur die trane verder te bestuur, want dit is hartseer, dit is onregverdig!
Vir 'n oomblik is ek kleinlik in my geloof, want vir daai oomblik vra ek die Liewe Vader "hoekom?", hoekom moes sy haar man, haar eggenoot, haar vriend, verloor, hoekom moes klein Jordan sy daddy verloor, hoekom moet dit met goeie mense gebeur, hoekom is hul nie hul geluk gegun nie, hul oomblik in die son?
Weereens leer ek om dankbaar te wees vir dat wat ek het, vir dit wat my gegun word elke dag, die oomblikke saam my Biekie's, die oomblikke saam my Bollie, elke asemteug en oogknip, die wind wat ek deur my hare voel speel, die son saggies op my wang, die sonsopkoms, en die maan wat ons sagkens toevou in sy donker kombers waarop helder sterre pryk!
Ek leer ook dat die krag van 'n vrou nooit onderskat moet word nie, dis onmeetbaar!
"Liewe Vader, dankie vir elke oomblik wat U aan my leen, die geleenthede wat U my skenk, dankie vir die geluk, vreugde, liefde en vrede wat ek saam met my familie kan deel, leer my weereens om opreg dankbaar daarvoor te wees en dit nie as vanselfsprekend te aanvaar nie. Maar Liewe Vader, ek dra vir Nikky, Jordan en hul familie aan U op Vader. Dra hulle deur hierdie hartseer tyd, hou hul styf teen U vas, vertroos hulle, omhels hulle en bewaar hulle. Wees U daar wanneer hul alleen is, droog hul trane af. Help ons om steeds in U goedheid en genade te glo, al gaan ons deur moeilike tye. Dankie vir U liefde en seën! Amen"
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.