Dit is al meer as ‘n maand na my laaste blog, en soveel dinge het intussen gebeur. Ons bly nou amptelik in Meyerton, die trek was vinnig verby, dalk te vinnig na my sin, want toe ek my oe uitvee, toe moes ek totsiens se aan my geliefde Pretoria…en dit was moeilik. Ek het juis Pretoria toe getrek om myself te vind, groot te word, mens te word. Dis waar ek die liefde van my lewe ontmoet het, dis waar ons saam gegroei het, aan ons toekoms begin werk het, dis waar ons kiddies gebore is, dis waar ons goeie tye en slegte tye gehad het.
Pretoria was vir meer as 7 jaar diep ingewortel in my menswees en my bestaan, ek het die buzz van die stad ge-crave soos ‘n junkie sy volgende fix. Die dolle gejaag het perfek ingepas in die dolle warboel van my gedagtes, dit was een met my hartklop, deur my are gepols…
Nou is dit rustig, soms dalk net te rustig, hier bestaan nie iets soos verkeer nie, hier is dan nie eens een blerrie robot in hierdie dorp nie, for crying out loud, hier is dan nog flippen grondpaaie!
Maar as ek vir ‘n oomblik gaan sit en dink hoekom ek dit gedoen het, hoekom ek die stad opgeoffer het vir ‘n stofpad-dorp, sal ek dit enige tyd weer doen sonder om twee keer daaroor te dink. Ek het dit gedoen om die besluit wat my man geneem het, te ondersteun, om daar vir hom te wees, om hom te wys hoe trots ek regtig op hom is. Want sien, die besluit wat hy geneem het, was nie net vir homself nie, dit was vir ONS, vir ons as gesin gewees, vir ons toekoms!
Ek sal steeds lief bly vir Pretoria, vir sy liggies en sy pers Jakaranda strate, vir die geleenthede wat hy ons geoffer het, vir die memories wat hy ons gegun het, vir die pelle wat ons agter gelaat het, die laat-aand kuiers om die vuur, die geselsies by die hek saam met die bure….
Maar….laat ek my glas lig en ‘n heildronk instel op Meyerton, op die nuwe geleenthede wat le en loer, vir die nuwe vriende wat gemaak moet word, vir die nuwe, groter en exciting dinge wat vir ons le en wag….
En so, met ‘n skewe glimlag op my gesig, stap ek tussen die hoenders op die grondpad deur met ‘n stofreuk in my neus
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.