Na ek het jou vanoggend by die kleuterskool gaan aflaai het, het ek vir 'n paar minute net in die kar voor die skool se hek gesit en huil, ek kon doodeenvoudig die trane nie keer nie.
Ek het gesit en huil oor die feit dat jy my Biekie-baba is, oor hoeveel ek vir jou omgee en wat ek nie als vir jou sal doen nie! En nie oor ek spyt is daaroor nie, nee, juis oor ek so lief is vir jou!
Jy het weer vanoggend so klein en weerloos teenoor die res van jou maatjies gelyk. En boonop voel jy nie baie lekker nie want jy sukkel met 'n effense verkoue en dus was jy nog bietjie huilerig ook vanoggend, en dit als het veroorsaak dat my hart gebreek het om jou net so daar by die skool te los en in my kar te klim en te ry.
En dit maak dat ek jou net elke keer meer en meer in my arms wil toevou en wegsteek vir die wrede wereld daar buite. Wat ek jou wil beskerm en verhoed dat enige iets of enige iemand jou seermaak of jou hart breek, want hoe gaan ek daarmee kan saamleef as dit wel die dag met jou moet gebeur?
Dit maak my bang vir dit wat die toekoms inhou, want as ek nou al so voel, hoe gaan dit nie wees elke keer wat jy voor nuwe uitdagings te staan kom nie?
En hier waar ek nou sit en dink oor wat om te skryf kan ek die warboel van emosies binne my voel tol, maal en draai.
Al wat ek kan doen is hoop en glo dat jy die nodige lewenslesse kan leer uit die voorbeeld wat ons as ouers vir jou stel. Dat jy sal leer hoe om 'n selfstandige, onafhanklike mens te wees, wat nie toelaat dat ander oor jou loop nie, maar wat ook die mense om jou respekteer en behandel soos wat jy graag behandel wil word.
Maar diep binne my weet ek dat dit nie vir jou 'n probleem sal wees nie en dat jy sal grootword en groei in 'n jong man waarop ons vir ewig trots sal wees!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.