To:.... Oupa Ben
Subject:.... Ons laaste gesprek
...my koffie staan langs my op die lessenaar, my een been onder my ingevou op die stoel, soos gewoonlik, my vingers tik, tik, tik op die sleutels van die keyboard terwyl ek sit en dink...
Die pad van Meyerton af gister was lank, maar dit het nie lank genoeg gevoel nie, want ek het die heeltyd met my emosies sit en worstel, myself voorberei op dit wat ek dalk mag sien as ek daar langs jou hospitaalbed staan.
...ek sit terug en vou my arms oor my bors...en dink verder...
Pa het my kom roep en ek het ingestap in die saal waar jy lê, die eerste paar minute kon ek myself nie kry om vir jou te kyk nie, ek het agter pa bly wegkruip, want ek was nie seker hoe ek dit sou kon hanteer nie. Dit het my 'n rukkie gevat om uiteindelik vir jou te kon kyk....jy het net daar gelê, weerloos. En terwyl ek so vir jou staan en kyk het ek gewag vir die pyn, die hartseer, die trane om my te oorval..., maar daar wat niks
...ek roer my koffie, links-om, tot al die suiker opgelos het, blaas liggies oor die koffie, vat 'n sluk en dink verder...
Terwyl ek daar staan met Tannie Quip wat al brabbelend vir die susters iets verduidelik en pa wat aan die ander kant van jou bed vir jou staan en kyk, bid ek, nie vir lank nie, maar ek bid. Ek vra die Liewe Vader dat al is dit die enigste ding wat ek uit hierdie hele ondervinding leer en wyser word, is dit net eenvoudig my begeerte om 'n beter mens te word. En na ek gebid het, staar ek net by die hospitaalvenster uit.
...my kop is seer, en my koffie is klaar...
Ek voel verlig, asof die gewig van my skouers af gelig is, en ek besluit - Ek is nou klaar vir jou kwaad gewees oor dinge wat in die verlede gebeur het, dinge waaroor ek geen beheer het nie en dinge wat ek nie kan verander nie, ek gaan dit eerder aanvaar. Ek is klaar met my "temper-tantrum" wat die hele situasie aanbetref, my pa het meer my ondersteuning nodig as wat ek nodig het om 'n tantrum te gooi. En in plaas daarvan om kwaad te wees oor die persone wat lief was vir my nie meer daar is nie, gaan ek eerder dankbaar wees dat die Liewe Vader wel jou so lank vir ons gespaar het, al was jy nie daar nie, al was ons nie daar vir mekaar nie. Want net soos wat ek kwaad vir jou was oor jy nooit deel van ons lewens was nie, net so moet ek skaam kry oor ek nie meer moeite gedoen het om deel van joune te wees nie.
...my voet slaap, en my kop is steeds seer...
En ek is jammer, jammer dat dit my so lank gevat het om dit alles te besef.
Benita
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.