Vir die afgelope twee jaar het ek soos die spreekwoordelike skilpad in my dop weg gekruip, terug getrek en weg gesteek van dinge om my, want party keer is dit net makliker, maar daar is 'n tyd, en ek dink dit is nou tyd.
Gister, skielik uit die bloute het een van die Biekies in trane uitgebars en baie hartseer vir my vertel hoe baie word Ouma gemis en na haar verlang, maar dat hulle nie van ouma wil praat nie, want as hulle wel doen, dan word hulle hartseer. En sonder om te dink daaroor of filosofies te wou raak, het ek verduidelik dat ons almal haar nog verskriklik baie mis, en verskriklik baie na haar verlang, en dat ons almal nogsteeds dae het waar onsself nog maar baie hartseer oor haar is, en dis toe wat ek begin verduidelik dat ons juis dan, as ons so baie verlang en hartseer is, van haar moet praat, en oor haar moet gesels, en al die lekker en goeie dinge moet onthou. Want hoe meer ons kan regkry om dit te doen, hoe meer gaan dit hopenlik help teen die hartseer en verlange. En na die tyd, toe ek weer daaroor sit en dink, toe besef ek dat ek dit self moet doen, dat ek moet ophou baklei teen die hartseer, en eerder die lekker en goeie moet onthou, en dit moet gebruik om my te help baklei teen die verlange.
Ek dink dit is tyd, om weer uit my dop te kruip, te aanvaar dat nie elke dag maklik gaan wees nie, maar dat die son tog weer skyn. Ek weet ek gaan nog gereeld my "battles" hĂȘ waarteen ek gaan baklei, maar elke aand as ek vir die sterre daar bo kyk, weet ek dat ek nog 'n dag oorleef het.