Monday, August 2, 2010

Biekies en Bollies

WOW!  Kan nie glo dat daar alreeds 5 weke verby gevlieg het nie!  En ek kan nie glo dat 5 weke so groot verskil in 'n mens se lewe kan maak nie, dat 5 weke soveel betekenis kan hê nie....
My biekie-bouter is vandag al 5 weke oud, en in hierdie laaste 5 weke het dinge soveel verander...
Ek het al baie voorheen gesê dat my lewe perfek is en dat ek dit op geen ander manier sou wou hê nie, maar ek het van plan verander...want soos wat my lewe nou is, so wil ek dit vir die res van my lewe hê, want soos wat my lewe nou is, is dit vir my PERFEK!  Ek is steeds nog net so lief (en liewer elke dag) en ook verlief op my liewe lawwe Lollie-Bollie, hy is steeds my alles en is steeds my lewe, en steeds is ek sonder hom niks!  Dan is daar my Biekie-baba, wat oor 'n paar dae verjaar en 'n skrikwekkende 4 jaar oud word, en alhoewel hy nie regtig meer so baba is soos wat ek hom soms wens om te wees nie, is ek so bitterlik oneindig lief vir hom!
En saam met my Biekie-baba het my Biekie-bouter ook nou nog in my hart ingekruip en haar snoesig, warm tuis gemaak daar, en deel gerieflik die spasie daar binne met haar pa en haar boetie, en alhoewel my hart soms net so groot voel, is daar meer as genoeg wegkruip-hoekies vir al die Biekie's en die Bollie's daar binne.
En waarvoor meer kon ek vra?
Ten spyte van die warboel dinge wat soos klits-gras aan die wolkombers van ons lewe vasklou soms, is dit wat ek het en die mense saam met wie ek dit kan deel, meer die moeite werd as die klits-gras.
En al wat ek nog kan doen om dit ekstra spesiaal te maak is om elke dag die Liewe Vader te dank daarvoor.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.