Thursday, June 3, 2010

Ooievaars : 29/05/2010

Het Saterdag my Ooievaars vir Zhané gehad, en wat 'n wonderlike dag was dit nie gewees nie, maar ons het almal baie hard gewerk om dit so wonderlike dag te maak, en daar is soveel mense waarvoor ek dankie moes sê vir die aandeel wat hul gehad het :

  1. Die Liewe Vader vir die klein wonderwerk en geskenkie wat Hy aan ons toevertrou het, en sonder Sy Hand van bewaring oor my, Zhané en my swangerskap, was niks van die moontlik gewees nie, al die lof en eer aan Hom!

  2. My liewe Moeder, wat van die begin af nie een keer geskroom het toe ek haar vra om my te help met die reëlings vir die Ooievaars nie (ja ok, ek is 'n control-freak en kon nie anders as om in beheer te wees van die reëlings nie, en ek hou nie van verrassings nie, Hanco se ooievaars was vir my erg genoeg!).  My ma het soveel moeite gedoen met die ooievaars, dankie Moeks, ons waardeer als wat jy gedoen het en waardeer dit wat jy vir ons beteken en die feit dat jy deel van ons lewens is, want dinge sou maar net nie dieselfde gewees het sonder jou nie!
  3. Klippie : Dankie vir die "Dankie-sê" boksies wat jy gemaak en gevul het, dankie dat jy net so hard saam met ons gewerk het Vrydag-aand en Saterdag-oggend, dankie dat jy oneindiglik lief is vir Hanco, want ek weet Zhané gaan dieselfde onvoorwaarlike liefde kan ervaar!
  4. Tannie Hettie (en Estie).  Die dag toe ek omstap na Tannie Hettie toe om haar te vra of ons haar erf kan leen vir die ooievaars het sy sonder om twee keer te dink vir my ja gesê.  Dankie daarvoor tannie, dit was wonderlik!  Dankie dat Tannie altyd daar is, al is dit net soms om te luister na ek wat kom stoom afblaas en my na die tyd vra : "Voel jy nou beter?", dankie dat Tannie die rol as "aanneem-ma" 100% met entoesiasme uitleef, en die gap wat gelos word met ons ma's wat nie altyd daar kan wees nie, vul, sonder skroom.  Ons waardeer Tannie en is uit ons harte lief vir tannie!
  5. Magda vir al jou hulp en eetgoedtjies wat jy gebak het.  Dankie en ons waardeer!
  6. Adri vir die foto's wat jy geneem het, dis flippen stunning!
  7. Buurvrou, wat Vrydag aand tot na 11 toe gehelp het om cupcakes te versier, aangesien ek redelik bak-gestremd is.  Jy is 'n vriendin 1000!
  8. Almal wat daar was om die dag saam met ons te geniet, saam te kuier, saam te lag en saam te gesels.  Ons het net weereens na Saterdag besef dat ons eintlik baie geseend is om so baie en sulke wonderlike mense in ons lewens te hê, want elkeen van hul maak 'n verskil, al is dit hoe klein.
Daar was soveel geskenke dat ons na die tyd nie geweet het waar om te vat en waar om te los nie, en ek en my ma het na die tyd vir ure lank op my gesit en "ge-oe" en "ge-ah" oor al die cute goedtjies. 
Hanco het so af en toe net 'n draai en 'n wals deur die kamer gegooi, net om ons te herinner dat hy nie vergete is nie en net om elke keer so ogie oor al die geskenke te kom gooi (net om seker te maak dat daar nie erens tussen al die pienk, frille en valle dalk, miskien, mens-weet-nooit, iets vir hom wegkruip nie.  Hy was eintlik so blerrie cuteres!

Nog foto's :

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.